Ek is jammer oor jou ouma, Fourie. Ek dink ons se dit te min vir mekaar. So asof geweld en dood so deel geraak het van ons lewens, dat dit amper normaal geword het. ‘n Getraumatiseerde samelewing. Gedrewe deur vrees. Maar ook gedrewe deur die eeue oue wortel van sonde – die soeke na power.

Anriette se stories (waarvan ek deel was) het my baie dinge laat besef. Dit het my laat besef daar is ‘n leierskapskrisis groter as wat ons besef in ons land, in ons regering en in ons kerk. Die Xeno goed het my laat besef hoe groot die potensiaal is dat ons “bubble” werelde waarin ons wegkruip dalk een van dae gekonfronteer kan word met ‘n SA wat ons nie gewoond is nie. En daar is vrees! En daar is haat! En daar is die soeke na mag! Mag oor buitelanders, mag oor armes, mag oor die “ander”! En waar is die leiers? Waar is die kerk?

Ons staan op die verhoog van die Germiston stadsaal en probeer iets organiseer tussen deur al die chaos van skenkings wat rond le. En ek dink: “Waar is die res van die kerk?”. Dit voel vir my ons hou selgroepe, ons hou Bybelstudie, ons lei mense op, ons prys die Here op Sondae, ons hoor preke….vir die dag wat ons die Koninkryk van God kan laat kom. En nou is die dag hier! En waar is die kerk? “Nee sorrie, ons hou eers vergadering daaroor om te besluit wat om te doen!”, “Nee sorrie, ons is baie besig by ons gemeente vanaand!”, “Nee sorrie, ons kamp!”. Wat ‘n ontnugtering. Die goed is mos belangrik! Ek stem. Belangrik om ons te equip om die hande en voete van die Koninkryk te wees. Great! So hier is dit nou jou kans! Maar nee, niemand het ons genooi nie! 

Ons lewe in frightening tye as die kerk te besig is met haarself om in ‘n moerse krisis soos ‘n mini-oorlog in Gauteng ‘n verskil te gaan maak! Met apologie aan die broers en susters wat wel het, en wel ‘n verskil gemaak het en bygedra het, en steeds doen….I salute you!

Die “ons”, die “kerk” is jy. Jy wat hierdie lees. Jy wat nie ‘n uitnodiging nodig het om te gaan nie. Jy wat VREESLOOS lewe! Jy wat verstaan, daar is niemand anders wat gaan kom om die gemors uit te vee nie! 

Geweld, Xeno, Zimbabwe, die gebrek aan leierskap, die blerrie duur diesel, die rentekoerse, die vrees, die power struggle….hier kom ONS! Ons…die kerk….nie die gebou nie…die kinders…hier kom ONS!