Donderdag 22 mei
Germiston stadsaal
Germiston stadsaal is oorvol met verslae mans, vroue en kinders. Volgens een van die koordineerder Mnr Koom, is daar 2400 mans, 240 vroue en 120 kinders. Hoe op dees aarde vind almal ‘n plekkie om te slaap? Ek gesels met Julia en haar gesin wat voor die stadsaal in die son sit. Julia, ‘n Zimbabwer, het ‘n “spaza” winkel gehad waar sy kos gemaak het vir ‘n inkomste. Sy is al 5 jaar in die land en het hard gewerk om ‘n lewe te maak vir haar en haar gesin. Sy het verlede week al haar geld gebruik (R2100) om nuwe voorrade aan te koop – haar aanvallers het alles gesteel. Hulle klere, beddegoed, meubels, geld, selfone, skoene – alles is gevat deur jong mans wat hulle met pangas aangehou het. Hulle het kaalvoet gevlug vir hulle lewens. In die proses het Julia se suster geval – sy wys vir my haar skraapwonde. “Wie het dit gedoen?”, vra ek. Hulle weet nie wie dit was of hoekom hulle aangehou is nie, maar beskryf hulle aanvallers as jong seuns wat in die eerste plek hulle goed wou gehad het. “Hulle was jong Zulu seuns – kriminele (tsotsi’s) wat net dit wil steel waarvoor ons so hard gewerk het”.
“Ons kan nie teruggaan Zimbabwe toe nie, daar is niks kos nie”, vertel Julia verder. “Wat sal van ons kinders word?” vra sy, sonder dat sy ‘n antwoord verwag.
In die hoek van die saal keer Helen my voor. Sy is in trane. Sy is ‘n enkel ma van twee kinders en kom van Zimbabwe af. Haar kinders is in Germiston in die skool. Haar seun is besig met sy matriek eksamen en dit is oor hom wat sy so angstig is. Hy is baie slim en wil baie graag skool klaarmaak, verduidelik sy. Hy dring daarop aan om elke dag steeds skool toe te gaan om sy eksamens te skryf al verkeer hy in lewens gevaar. Sonder boeke of skoolklere (hul het alles verloor toe hul aangeval is), pak hy elke dag die gevaarlike roete skool toe aan, wetend dat dit moontlik sy lewe kan kos. Ek wonder hoe ‘n jongmens op ‘n leë maag kan gaan matriek eksamens skryf nadat hy in ‘n stampvol saal probeer slaap het. Hoe hou hy moed? Hoe kan hy bly hoop op ‘n toekoms nadat alles van hom weggeneem is?
Bid asseblief saam met my, smeek Helen met oë vol geloof. Toe ek klaar gebid het, vra ‘n klein dogtertjie my om haar te help om haar vuil teddiebeer met haar truitjie op haar rug vas te bind. Met wieg bewegings sus sy die teddiebeer rustig aan die slaap