Die girl is van Duitsland en ‘n mediese student. Na weke se ry deur Afrika eindig ek op die strand in Nungwe in die noorde van Zanzibar. Ons almal ontspan op die strand onder die maanlig. Die wêreld se probleme is almal opgelos. Eindelose gesprekke tussen deur die kili’s en die hubly pype eggo deur die groepies wat verspreid sit op die perfekte aand.

 

“Afrika is wonderlik”, sê sy. “Was jy al in SA?”, wonder ek. “Nee, dit is te gevaarlik en nie regtig Afrika nie – dit voel nie eintlik soos Afrika daar nie hoor ek, want daar is swart mense agter die toonbank en wit mense wat bedien word.” Die Lonely Planet gids (wat ‘n belangriker plekkie gehad het as enige ander iets op ons trippie, moet ek bely!) se negatiewe kommentaar oor SA kom weer in my kop op terwyl sy praat. Die rassistiese land waar dit gevaarliker is as in Nairobi of Dar es Salaam. En ek hoor dit al – Die plek waar die Europeers kom oorneem het wat nie aan hulle behoort het nie. “Sy verstaan duidelik nie”, dink ek. Maar in my eie gemoed is dit vir my ‘n hartseer oomblik, want ek kan verstaan hoekom dit so lyk vir haar.

 

Ek is gebore in Afrika. Ek het nie die land kom oorneem nie. Ek verstaan nie daardie tyd nie. Almal het almal se land oorgeneem in daardie tye – Amerika, Afrika, Indië. Wat weet ek daarvan? Ek is nou hier.

 

Ek sit ‘n uitroepteken agter jou Fourie! My identiteit lê wyer as in ‘n beperkte naam of ‘n geykte volk se beskrywing. Ek het nie ‘n naam nie, soos jy!. En ek voeg by: Ek is nie ‘n Europeer of ‘n westerling nie. Maar anders as jy sal ek myself Afrikaan kan noem al is ek wit.

 

Ek is van Afrika gebore.

Ja!

Ek is Afrikaan.

Hoe weet ek dit?

 

Ek weet dit wanneer ek en Adamson in die Matero Compound in Lusaka die stof strate afstap. Wanneer ons gesels asof ons broers is en eintlik in dieselfde land woon. Wanneer ek nader aan hom voel as aan die Duitse seun by ek gebly het toe ek ‘n uitruilstudent was. Ek weet dit as ek as die enigste wit man in die blou en wit taxis ry en almal met my kuier. Ek weet dit wanneer ek die taal probeer leer en mense dit waardeer. Ek weet dit wanneer die kelnerin in CTFM my in Afrikaans groet en my taal probeer leer. Ek weet dit as ek van oorsee terugkom en ek bly is om by die huis te wees, al is die lughawe se diens crap en die crime hoog oppad kar toe.

 

Ek weet dit net.

Ek is van Afrika!