Die ander dag help ek ‘n vriend om sy meisie se meubels aan te ry. Half lomp sukkel ons met ‘n wasmasjien uit die vorige bedeling: Groot, swaar en wit. Etlike oomblikke voor my vriend die bleddie ding op my voet neersit, stop ‘n statige swart vrou in ‘n spier wit 4×4 langs ons en vra vir rigting (‘n cream kleur Datsun dam agter haar op…). My vriend se engels is my een vooruit, dus doen hy die praatwerk terwyl ek hom in my binneste vloek oor die wasmasjien en die yskas wat nog op ons wag.
“Then you turn right at the first robot en go straight, no wait you go left at the first and straight past the 7 Eleven, untill you see ‘n tree on your left, then you turn right. OK?”
Vriendelik bedank sy hom en ry daar weg. Skaars het ons die wasmajien weer in ‘n half nelson beet, toe die datsun op ons aandag wag. ‘n Vrou met ‘n maand oue perm en lipstiffie wat pas by haar skril pienk oorbelle kondig oopbek aan:
“Julle kan haar maar enige kak vertel, sy gaan anyway fokol in haar houtkop gestoor kry!” En daar los sy die clutch en die Datsun ruk-ruk weer daar weg.
Wie gee vir haar die reg, vra ek toe my vriend, om te dink dat, net omdat ons wit is en in Kraaifontein meubels aflaai, ons en sy van dieselfde dam se eende is?
Nee, ek is nie ‘n Afrikaner nie. Ek dra nie pure boer t-hemde nie, voel nie neo-patrioties oor my geskiedenis nie, ek is nie melancholies oor die ou dae nie en soms voel ek dat jammer sê nie genoeg is nie.
Ek luister nie na Ge Korsten, Steve of enige van die ander Blou bul treffers nie, al hoe wel ek die Rapport koop en skelm die Huisgenoot lees terwyl ek in Woolworths se ry staan en wag. Ek sing nie “uit die blou van onse hemel” harder as die res van Nikosi Sikeleli nie, eintlik sing ek selde, ek beweeg net my lippe, die note is vir my te hoog.
Ek was nooit ‘n Voortrekker nie en moes maar op my eie uitfigure hoe om ‘n knoop te maak, ‘n vuur te pak en die suider-kruis te vind. Al drie kom nou handig te pas wanneer beurtkrag inskop en ons plaaslike petrolpomp leeg is.
Ek het nie die eposse oor Deon Maas geforward nie en voel nie bedreig deur mense wat anders dink oor God, Afrikaans of Bloedrivier nie.
Tog is ek nie ‘n Afrikaan nie. My vel is te wit en my baard te rooi. Ek is bang vir die revolusie en gatvol vir die crime. Ek stem vir Zille en raak gespanne oor Zuma. Ek is moeg vir kwotas, BEE en vorms wat vra wat die kleur van my vel is. Ek raak nie opgewonde oor ANC-slogans nie en noem niemand my comrade nie. Daar is egter nog ‘n paar straat – en plekname wat maar kan verander, maar om vadersnaam, kies tog net name wat die hele Suid-Afrika kan spel!
Ek verstaan egter nie hoe ‘n naamsverandering en die salarisse van die raadslede groter as die gesamentlike begroting vir instandhouding en armoedeverligting kan wees nie. Daai somme klop nie lekker nie. Ek het ook geen behoefte om iemand te bribe nie, nie die spietkop, die polisie of die ou wat moet sorg dat daar vars water na my huis toe loop nie. Ek betaal genoeg belasting dat daardie goed ‘n gegewe is. Hoekom moet local goverment dan nou dwars wees op hierdie punt?
Nee, ek is nie ‘n Afrikaner nie, maar ook nie ‘n Afrikaan nie.
Ek is eerder daai ding wat Jan Smuts was, ‘n bewoner van die ganse wereld.
Ek is daai ding wat Biko was, ‘n vegter vir vryheid.
Ek is daai ding wat Tutu is, ‘n vredesoeker vir alle mense.
Ek is daai ding wat Mandela is, deel van iets groter as net myself.
Ek is daai ding wat Beyers Naudé was, aan die kant van genade.
Ek is daai ding wat my doktersvriend is, iemand wat die geiser afsit, ‘n vleisie braai en met humor hoop hy maak ‘n verskil.
Ek is daai ding wat my Engelsmanvriend met die bar in Langstraat is, iemand wat kwaad raak wanneer mense kla en kla en maak asof dinge nou baie slegter is as ooit.
Ek is daai ding wat my vriend in London is, op pad terug met nuwe moed en minder skuld.
Ek is die kind wat nog nie dood is nie, nòg by Langa, nòg by Nyanga, nòg by die gange van hospitale waar hulle in kartonbokse lê en wag om goeie mediese sorg.
Ek is skepties dog hoopvol. Passief, dog betrokke. Uitgesproke, dog onseker. Goed gatvol, maar nog lank nie klaar met hierdie plek en haar mense nie.
Ons dam en sy eende het nog nie ‘n naam nie, maar nòg Afrikaner, nòg Afrikaan.
Mei 14, 2008 at 11:44 vm
Die probleem met dié dam is dat almal toegelaat word om hulle k*k net te drop waar hulle wil. Dit is hoogtyd dat iemand begin om ‘n streep te trek. As jy wil k*k, gaan doen dit in ‘n ander dam of daar anderkant waar ons jou nie kan sien. Julle is dalk nie voëls van eenderse vere nie, maar solank daar allerhande k*k in daardie dam is gaan jy my moeilik kan oortuig jy kom nie van dieselfde dam as die antie met haar Datsun…
Jy kan met my stry, maar voor jy nie begin om die dam te rehabiliteer nie, gaan die antie se k*k die dam ondraaglik maak om in te leef. Almal gaan met die k*k moet saamleef of trek na ‘n ander dam…
Die vrou in die spierwit 4X4 het dalk aanwysings gevra om uit die k*k te kom…
Kom ons los die k*k en begin eers om ons taalgebruik te verander. Hier moet ons leer om respek vir mekaar te hê (as jy dit nie voor haar kan sê nie, bly dan liewer stil). Ons moet leer om selfrespek te hê. Jaloesie in al sy vorme moet in die kiem gesmoor word, anders gaan die dam vir ‘n baie lang tyd vuil bly.
Junie 11, 2008 at 7:15 nm
Ek hou van jou. Jy praat uit my hart uit, wens ek kon dit so presies net so uitdruk.
Bly ek het julle raakgelees!